Die ontstaan van Laerskool Eikestad is verweef met dié van Paul Roos en Bloemhof.
Paul Roos en Bloemhof, met hul ryke tradisies, kan met reg die vader en moeder van ons skool genoem word. Voor 1951 het Paul Roos Gimnasium laer- en hoërskoolleerlinge gehuisves. In 1951 is die Laerskool Paul Roos afgestig met meneer Sam de Kock as eerste skoolhoof. Dit was `n parallelmediumskool met klasse van standerd 1 tot 5. Die seuns van graad 1 en 2, asook al die laerskooldogters, was tot 1959 deel van die Hoërskool Bloemhof.
In 1960 het `n volwaardige Laerskool Bloemhof met mev. Elize Buys as hoof ontstaan. In 1976 het onderhandelinge onder leiding van prof. B. Bouwer, eertydse voorsitter van Bloemhof Meisieskool, begin om die seuns van Laerskool Paul Roos en dogters van Laerskool Bloemhof as een skool te verenig. `n Geskiedkundige mylpaal word op 18 Januarie 1977 bereik toe die “nuwe skool” begin met mnr. CA Skibbe as hoof en mev. Elize Buys as vise-hoof.
Mnr. Skibbe moes in hierdie tussenfase die skool wat in twee geboue gehuisves was, 1.5 km van mekaar verwyder, bestuur. Mnr. W. Barnard was die eerste adjunkhoof van die skool. Op 13 April 1977 word amptelik goedkeuring verleen aan die naam Laerskool Eikestad. `n Blye geskiedkundige dag breek aan toe die voltooide skoolgebou op 31 Oktober 1986 deur mnr. Gene Louw ingewy is en alle leerlinge onder een dak verenig is.
Die storie agter “Akker”
In 2007 het Laerskool Eikestad sy 30ste bestaansjaar gevier. Tydens hierdie vierrings het die behoefte ontstaan vir ‘n simbool of logo wat eie is aan Eikestad. Dit sou bydra tot die algemene gees van Laerskool Eikestad.In die lig gesien van die ouderdom van ons leerders is die idee van ‘n “Akker” wat as mensie uitgebeeld word voorgestel.
Dit het egter ‘n jaar geneem voordat “Akker” op die toneel verskyn het. Hy is “gebore” tydens die Grondslagfase produksie in September 2008. “Akker” se storie begin op ‘n winderige dag, net na die langste nag. In Stellenbosch val ‘n akker so groot soos ‘n mens op die grond. Hy word met ope arms ontvang en word gou deel van die gemeenskap. Hy is slim en braaf en wys gou vir die res van die dorp waar “Akker” die wortels begrawe het. Deur mannemoed aan die dag te lê verslaan hy die nare eekhorings en wys so vir al sy maats dat enige iets moontlik is as jy net jou talente gebruik.
Na afloop van die produksie is “Akker” op vele wyses deel gemaak van Eikestad. Hy is gebruik tydens die Atletiekkleurebyeenkoms, waar hy die vlam aangesteek het en sodoende nie net die atletiekbyeenkoms geopen het nie, maar ook ‘n nuwe tydperk in die geskiedenis van Laerskool Eikestad.
Tans pryk “Akker” op meeste van die dokumentasie. Hy word gebruik in vele fasette. Hy is nie alleenlik ‘n sport en kultuur Akker nie, maar ook ‘n akademiese Akker.
Die oorspronklike skets van “Akker” is gemaak deur Frans Groenewaldt. Laerskool Eikestad het toestemming by hom bekom om die skets te gebruik en ook aan te pas. Akker verteenwoordig elke seun en dogter van Laerskool Eikestad. Hy verteenwoordig hulle talente en uniekheid.
Lank lewe “Akker”!


Name van kleurgroepe
In 2008 is die behoefte vir name van die verskillende sportspanne geïdentifiseer. Die name van die verskillende sportspanne tot op daardie stadium was slegs Rooi, Geel en Blou. Alhoewel hierdie drie kleure verteenwoordigend was van Laerskool Eikestad se kleure was die algemene gevoel dat dit nie genoeg karakter aan die onderskeie spanne gee nie. Die gevoel was dat unieke name aan elke span ‘n eie karakter en gees sou gee.
Daar is besluit om die name van die 3 oorspronklike plase waarop Laerkool Eikestad gebou en ontwikkel is te gebruik. Die 3 sportspanne is elk na ‘n plaas vernoem, maar het steeds hulle oorspronklike kleur behou.
Die 3 sportspanne staan dus vanaf 2008 bekend as:
Huis Doornbosch – Blou
Huis Libertas – Geel
Huis Coetzenburg – Rooi