‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Die visie van Laerskool Eikestad sluit in dat opvoeding ondersteun word deur ‘n uitnemende buitemuurse sportprogram. Deelname asook blootstelling aan die opwinding van kompeterende sport is vir ons belangrik.
Atletiek
Eikestad se atletiek bereik jaarliks hoogtes en pak gereeld nuwe uitdagings aan. Ons Interhuis byeenkoms vind aan die begin van die jaar plaas waar alle leerders aangemoedig word om aan dié sport deel te neem.
Die Grondslagfase sowel as die seniorfase neem jaarliks aan verskeie byeenkomste deel en behaal uistekende uitslae.
Die byeenkomste sluit die volgende in:
Stellenbosch Kampioenskappe, Boland Sentraal Kampioenskappe, Boland Kampioenskappe, Skadu van die Berg, Wes-Kaap Kampioenskappe, Beaumont Mini-Byeenkoms, Beaumont Dag/Nag Sportdag, Aristea Junior Byeenkoms, Panorama Junior Atletiekbyeenkoms en die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe
Krieket
Laerskool Eikestad speel in die Helderberg- sowel as in die Bolandliga.
Die Grondslagfase speel mini-krieket en die seniorfase speel hardebal krieket. Daar word byna jaarliks leerders in die onderskeie Boland streekspanne opgeneem.
Die skool het twaalf mini-krieketspanne en sewe senior spanne.
Swem
Laerskool Eikestad bied swem aan van Graad R tot Graad 7. Ons hou jaarliks ‘n Interhuis Swemgala waaruit ‘n swemspan gekies word wat Eikestad verteenwoordig by galas teen ander skole. Die swemspan bestaan uit swemmers van o/7 tot o/13-seuns en dogters. Daar word dan ook jaarliks ‘n swemkliniek aangebied vir die swemspan. Heelwat van die swemmers is ook ingeskryf by die Matieswemklub en neem deel aan klubgalas. Indien ‘n swemmer dus daar presteer word daar ook erkenning by die skool gegee en kwalifiseer hul dus ook vir erekleure in swem.
Tennis
Daar word jaarliks ‘n Dubbelstoernooi aangebied waar daar ses skole in meeding. Die skool het 16 tennisspanne en die grondslagfase het weekliks groep oefeninge om hul tennisvaardighede te ontwikkel. Die senior spanne neem aan verskeie toernooi deel naamlik: Truda Kestell, Amanda Coetzer, CR van der Merwe en Jocelyn Marais tennistoernooie.
29 spelers het Boland gehaal en is in verskeie streekspanne verteenwoordig. Elf van die spelers het die SA-Skolespan gehaal.
Landloop
Landloop neem tans in twee ligas deel, naamlik die WP (Helderberg-liga) en Boland. Die atlete wat aan die Helderberg-liga deelneem kan egter nie provinsiale kleure verwerf nie. Die atlete wat aan die Boland-liga deelneem kan wel provisiale kleure verwerf omdat Eikestad in die Boland streek val. Daar word ook jaarliks ‘n vriendskaplike bergdraf teen Rhenish gereël wat een van die hoogtepunte by Eikestad is.
Netbal
By Laerskool Eikestad is netbal lekker! Soos ons kreet sê: “My netballyfie wil net Eikies gil!”
Van onder 7 tot en met onder 13 het ons 31 spanne en geen Eikie-dogter word weggewys by Netbal nie. Ons afrigters is net so lief vir netbal as wat ons spelers is. Hulle stap ook die ekstra myl vir hul spanne. Wen is nie die belangrikste nie, maar eerder die ontwikkeling van vaardighede om elke dogter die speler wat sy kan wees, te maak.
Ons woon gereeld netbalkursusse by en gaan op netbalkampe. Jaarliks kom WPNA na ons skool toe om die dogters se vaardighede op te skerp. Die o/12 en o/13 spanne gaan ook gereeld in die April vakansie Riebeek Kasteel toe vir hulle netbaltoer waar ons kosbare afrigting kry by top Nasionale afrigters. Daarom kan ons met trots sê dat daar jaarliks Eikestad dogters in die Wynland en Wes-Kaap spanne opgeneem word. Ons netbal is ook kompeterend met van die bestes in die land. Ons is die afgelope paar jaar genooi na die bekende Wildeklawer Sporttoernooi in Kimberley. Ons neem deel aan die Bolandliga en asook die Top Skole Kompetisie waar van ons spanne al die Wes-Kaap by die Nasionale Top Skole Toernooi gaan verteenwoordig het.
Rugby
Die rugby-missie is nie net om goeie rugbyspelers te ontwikkel nie, maar ook om seuns voor te berei vir die lewe. Daar word gestrewe om hoë gehalte afrigting by Eikestad te bied en kwaliteit afrigters betrokke te maak. Rugbyspelers kompeteer om WP kleure te verwerf. By die graad R-seuns word vaardigheidsontwikkel gedoen.
Die skool het ongeveer 17 rugbyspanne en bied ook jaarliks die Daglig-Spreilig Rugbytoernooi aan. Hier neem 16 van die top skole in die Wes-Kaap deel en bied spelers die geleentheid om voor te berei vir die komende seisoen. Rugby woon die volgende toernooie jaarliks by:
- Riebeeck Kasteel
- Marlow Rugbyweek
- Wildeklawer Sportfees
Hokkie
Eikestad beskik oor meer as 40 hokkiespanne van graad 1 tot 7. Seuns en dogters neem aan die Bolandliga deel wat dus aan o/12 en o/13-spelers die geleentheid bied om vir Boland provinsiale kleure te kompeteer. Daar word byna jaarliks van ons leerders in die IPT- en streekspanne opgeneem.
Oefen- en wedstrydgeleentheid op astro velde word so ver moontlik aan spelers gebied. Dit vind onderskeidelik op die Bloemhof en Maties Astro velde plaas. Daar word ook gepoog om tweejaarliks ‘n o/13-hokkietoer te onderneem om speler selfs groter blootstelling aan die sport te bied.
Skaak
Napoleon Bonaparte, Benjamin Franklin, John Wayne, Humphrey Bogart, Pous Johannes Paulus die Tweede, Bill Gates, Arnold Schwarzenegger en Lionel Messi het dit almal gedoen en party doen nog steeds – hulle speel skaak!
Eikestad bied trots Skaak as ‘n skoolsport aan. Seuns en Dogters van Gr R tot Gr 7, van beginners tot gevorderde spelers, ontvang elke week afrigting. Ons poog om Eikestad as een van die sterkste skaakskole in die Wes-Kaap te vestig.
Ons neem deel aan die Kaapse Wynlande Skole (voorheen Boland) Individuele Skaakkompetisies en verskeie Eikies het al Kaapse Wynlande en Wes-Kaap Kleure behaal. Van ons leerders het ook al Suid-Afrika in internasionale kompetisies verteenwoordig.
In die 2de en 3de kwartaal neem Eikestad deel aan die Stellenbosch Skole Skaakliga en kry leerders die kans om in spanverband vir Eikestad te speel.
Eikestad se Skaakspanne neem ook jaarliks in hulle ouderdomsgroepe deel aan die Topskole Kompetisie en verskeie spanne het al deurgedring na die Wes-Kaap Topskole Kompetisie om teen die room van die Provinsie te kon deelneem.
Eikies verteenwoordig ook gereeld die WP en Kaapse Wynlande by die jaarlikse Nasionale Junior Spankompetisie (SAJCC).
“Kom maak jou skuif!”