Ons staan in verwondering oor wat ons voor ons sien afspeel… die nuwe generasie kinders is besig om as dissipels van Jesus opgerig te word! Weekliks stroom kinders na die gesamentlike byeenkomste en vergadering van omgee-groepe. Mag Eikestad waarlik wees “Eike tot Sy Roem”.

CSV Byeenkomste

CSV word weekliks aangebied op ‘n Dinsdag tydens eerste pouse in die Aktiwitetsentrum. Alle leerders is welkom!

Omgee Groepe

Al slaan ons, ons tentpenne wyd, bly dit belangrik dat elke hart versorg moet word en dat daar in elke kind fondasies ingebou moet word sodat elkeen kan leef as ‘n Ligdraer van Christus. In vennootskap met die Groot Leermeester is omgeegroepies die ideale geleentheid vir gesamentlike groei. Waar ons mekaar aanmoedig om te wees dit wat Christus oor ons droom. Omgee-groepe kom op Donderdae bymekaar tydens eerste pouse. Verskillende onderwysers neem leiding vir die fasilitering van ‘n omgee-groepie.

Gebedsweek 2018

Die fokus van die Gebedsweek hierdie jaar was die lig en die heerlikheid van die Vader en was gebaseeer op die skrifgedeelte uit Jesaja 60:1-2.

Jes 61 vers 1-2

“Staan op, Jerusalem, laat jou lig skyn sodat alle volke dit kan sien! Want die Here se heerlikheid skyn op jou. Duisternis kom oor die aarde, donkerte oor al die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn Sy teenwoordigheid”

Die Aktiwiteitsentrum is omskep in ‘n gebedslokaal met verskillende aktiewe, kindervriendelike gebedstasies.  Hierdie stasies het die tema “In Sy Lig” op verskillende wyses uitgebeeld.  Leerders het in graadverband ‘n sessie bygewoon en kon gedurende pouses op hulle eie vrye tyd die verskillende stasies besoek.

Ons harte is gevul met dankbaarheid na hierdie week.  Dit bly ‘n voorreg om te sien hoe kinders keuses maak wat van ewigheidswaarde is.

Ons wil graag  elke en grootouer en ouer bedank wat intree in gebed vir die CSV.