Buiten sport- en kulturele aktiwiteite bied Eikestad ook aksies waaraan leerders vrywillig kan deelneem. Dít bou voort op ons kernwaardes – Omgee, Respek, Eerlikheid, Integriteit en Verantwoordelikheid.

Die skool bied tans die volgende Ko-Kurrikulêre aktiwiteite aan:

CSV

Ons staan in verwondering oor wat ons voor ons sien afspeel… die nuwe generasie  kinders is besig om as dissipels van Jesus opgerig te word! Weekliks stroom kinders na die gesamentlike byeenkomste en vergadering van omgee-groepe.  Mag Eikestad waarlik wees “Eike tot Sy Roem”.

CSV Byeenkomste
CSV word weekliks aangebied op ‘n Dinsdag tydens eerste pouse in Juf Elizna se klas.  Alle leerders is welkom!

Omgee Groepe
Al slaan ons, ons tentpenne wyd, bly dit belangrik dat elke hart versorg moet word en dat daar in elke kind fondasies ingebou moet word sodat elkeen kan leef as ‘n Ligdraer van Christus.  In vennootskap met die Groot Leermeester is omgeegroepies die ideale geleentheid vir gesamentlike groei. Waar ons mekaar aanmoedig om te wees dit wat Christus oor ons droom.  Omgee-groepe kom op Woensdae bymekaar tydens eerste pouse.  Verskillende onderwysers neem leiding vir die fasilitering van ‘n omgee-groepie.